[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8]
1:1 Die hooglied van Salomo. 1:2 Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn. 1:3 U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief. 1:4 Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief. 1:5 Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo. 1:6 Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie. 1:7 Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met 'n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle? 1:8 As u dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van die skape en laat u bokkies wei by die hutte van die herders. 1:9 Met die perde voor 'n wa van Farao vergelyk ek u, my vriendin! 1:10 Lieflik is u wange tussen die kettinkies, u hals in die snoere. 1:11 Ons sal vir u goue kettinkies maak met silwerknoppe. 1:12 So lank as die koning aan sy tafel was, het my nardus sy geur gegee. 1:13 My beminde is vir my 'n bossie mirre wat tussen my borste rus. 1:14 My beminde is vir my 'n tros henna-blomme in die wingerde van Éngedi. 1:15 Hoe mooi is u tog, my vriendin! Hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe! 1:16 Hoe mooi is u tog, my beminde, ja lieflik; ook is ons bed in die groenigheid. 1:17 Die balke van ons huise is seders, ons paneelwerk sipresse.