[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66] [67] [68] [69] [70] [71] [72] [73] [74] [75] [76] [77] [78] [79] [80] [81] [82] [83] [84] [85] [86] [87] [88] [89] [90] [91] [92] [93] [94] [95] [96] [97] [98] [99] [100] [101] [102] [103] [104] [105] [106] [107] [108] [109] [110] [111] [112] [113] [114] [115] [116] [117] [118] [119] [120] [121] [122] [123] [124] [125] [126] [127] [128] [129] [130] [131] [132] [133] [134] [135] [136] [137] [138] [139] [140] [141] [142] [143] [144] [145] [146] [147] [148] [149] [150]
105:1 Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. 105:2 Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders. 105:3 Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. 105:4 Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. 105:5 Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, 105:6 o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes! 105:7 Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. 105:8 Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte- 105:9 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; 105:10 wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond, 105:11 met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. 105:12 Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, 105:13 en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, 105:14 het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: 105:15 Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. 105:16 En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek. 105:17 Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. 105:18 Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, 105:19 tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. 105:20 Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. 105:21 Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; 105:22 om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer. 105:23 Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. 105:24 En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders. 105:25 Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel. 105:26 Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het. 105:27 Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam. 105:28 Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie. 105:29 Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe. 105:30 Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings. 105:31 Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied. 105:32 Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land. 105:33 En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek. 105:34 Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal, 105:35 wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond. 105:36 Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag. 105:37 Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie. 105:38 Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval. 105:39 Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig. 105:40 Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood. 105:41 Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke- 'n rivier! 105:42 Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg. 105:43 En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel. 105:44 En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, 105:45 dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!