[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66] [67] [68] [69] [70] [71] [72] [73] [74] [75] [76] [77] [78] [79] [80] [81] [82] [83] [84] [85] [86] [87] [88] [89] [90] [91] [92] [93] [94] [95] [96] [97] [98] [99] [100] [101] [102] [103] [104] [105] [106] [107] [108] [109] [110] [111] [112] [113] [114] [115] [116] [117] [118] [119] [120] [121] [122] [123] [124] [125] [126] [127] [128] [129] [130] [131] [132] [133] [134] [135] [136] [137] [138] [139] [140] [141] [142] [143] [144] [145] [146] [147] [148] [149] [150]
89:1 'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. 89:2 Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. 89:3 Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele- daar bevestig U u trou. 89:4 Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe: 89:5 Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela. 89:6 En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges. 89:7 Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge, 89:8 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is? 89:9 o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U! 89:10 U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring. 89:11 U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi. 89:12 Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid- U het dit gegrond. 89:13 Die noorde en die suide- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam. 89:14 U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe. 89:15 Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit. 89:16 Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. 89:17 In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. 89:18 Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef. 89:19 Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel. 89:20 Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef. 89:21 Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, 89:22 met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. 89:23 Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie; 89:24 maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan. 89:25 En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word. 89:26 En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. 89:27 Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! 89:28 Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde. 89:29 Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. 89:30 En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. 89:31 As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; 89:32 as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, 89:33 dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. 89:34 Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. 89:35 Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. 89:36 Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! 89:37 Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. 89:38 Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela. 89:39 Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. 89:40 U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond. 89:41 U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak. 89:42 Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword. 89:43 U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak. 89:44 Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie. 89:45 U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp. 89:46 U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela. 89:47 Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur? 89:48 Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het! 89:49 Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela. 89:50 Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou? 89:51 Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke, 89:52 waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad. 89:53 Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.