[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
29:1 'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is. 29:2 As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk. 29:3 'n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur. 29:4 'n Koning hou deur reg die land in stand, maar 'n man wat belastings afpers, verwoes dit. 29:5 'n Man wat sy naaste vlei, sprei 'n net uit voor sy voetstappe. 29:6 In die oortreding van 'n slegte mens is 'n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees. 29:7 Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie. 29:8 Manne wat spot, bring 'n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring. 29:9 Het 'n wyse man met 'n sot 'n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring. 29:10 Manne van bloed haat die regskapene, en hulle soek die lewe van die opregtes. 29:11 'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit eindelik tot bedaring. 29:12 'n Heerser wat luister na 'n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos. 29:13 Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die HERE verlig altwee se oë. 29:14 'n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees. 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar 'n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. 29:16 As die goddelose vermeerder, vermeerder die oortreding; maar die regverdiges aanskou met welgevalle hulle ondergang. 29:17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf. 29:18 As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy. 29:19 Met woorde laat 'n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie. 29:20 Het jy 'n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir 'n dwaas is daar meer hoop as vir hom. 29:21 As 'n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar. 29:22 'n Opvlieënde man verwek twis, en 'n driftige man is ryk aan oortreding. 29:23 Die trotsheid van 'n mens verneder hom, maar die nederige van gees sal eer verkry. 29:24 Hy wat saam met 'n dief deel, haat sy eie siel; hy hoor die beswering, maar openbaar niks nie. 29:25 Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word. 29:26 Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die HERE. 29:27 'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel.