[1]
[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]
23:1 Sit jy aan om saam met 'n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is,
23:2 en sit 'n mes op jou keel as jy 'n goeie eetlus het.
23:3 Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys.
23:4 Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.
23:5 Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!
23:6 Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie.
23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
23:8 Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.
23:9 Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.
23:10 Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
23:11 Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
23:12 Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.
23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
23:15 My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.
23:16 En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.
23:17 Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.
23:18 Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
23:19 Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.
23:20 Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.
23:21 Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.
23:22 Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.
23:23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.
23:24 Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.
23:25 Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.
23:26 My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë.
23:27 Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put.
23:28 Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.
23:29 By wie is Ag!; by wie is Wee my!; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
23:30 By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
23:31 Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
23:32 op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.
23:33 Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
23:34 en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
23:35 Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! (23:36) Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.
|