[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
12:1 Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom. 12:2 Die goeie verkry 'n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel 'n slinkse man. 12:3 Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie. 12:4 'n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos 'n verrotting in sy gebeente. 12:5 Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog. 12:6 Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed, maar die mond van die opregtes red hulle. 12:7 Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie; maar die huis van die regverdiges bly staan. 12:8 Ooreenkomstig sy insig word 'n man geprys; maar 'n verkeerde van hart sal verag word. 12:9 Wie gering geag word en 'n slaaf het, is beter as hy wat hom vernaam aanstel en gebrek aan brood het. 12:10 Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed. 12:11 Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand. 12:12 Die goddelose begeer die vangs van verkeerde dinge, maar die wortel van die regverdiges lewer vrugte op. 12:13 In die oortreding van die lippe lê daar 'n gevaarlike strik; maar die regverdige ontkom aan die benoudheid. 12:14 Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van 'n mens se hande kom op hom terug. 12:15 Die weg van 'n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad. 12:16 Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande. 12:17 Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar 'n valse getuie bedrog. 12:18 Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 12:19 'n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar 'n valse tong vir 'n oomblik. 12:20 Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. 12:21 Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. 12:22 Valse lippe is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het 'n welbehae in die wat getrou handel. 12:23 'n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit. 12:24 Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid. 12:25 Bekommernis in die hart van 'n mens druk dit neer, maar 'n vriendelike woord vrolik dit op. 12:26 Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal. 12:27 Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is 'n kosbare skat vir 'n mens. 12:28 Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.