[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
11:1 'n Valse weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar in 'n volle gewig het Hy behae. 11:2 Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid. 11:3 Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle 'n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle. 11:4 Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood. 11:5 Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid. 11:6 Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang. 11:7 By die dood van 'n goddelose mens gaan sy hoop tot niet, en die verwagting van die roekelose het vergaan. 11:8 Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek. 11:9 Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered. 11:10 Oor die voorspoed van die regverdiges jubel 'n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel. 11:11 Deur die seën van die opregtes kom 'n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek. 11:12 Die verstandelose verag sy naaste, maar 'n verstandige man bly stil. 11:13 Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek 'n saak. 11:14 As daar nie goeie oorleg is nie, val 'n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding. 11:15 Baie sleg word iemand behandel as hy vir 'n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig. 11:16 'n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom. 11:17 'n Man wat 'n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar 'n wreedaard pynig sy eie vlees. 11:18 Die goddelose behaal oneerlike wins, maar hy wat geregtigheid saai, 'n betroubare loon. 11:19 Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood. 11:20 Die wat verkeerd van hart is, is vir die HERE 'n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is. 11:21 Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry. 11:22 'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid. 11:23 Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is 'n strafgerig van toorn. 11:24 Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. 11:25 Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf. 11:26 Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop. 11:27 Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is; maar hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom. 11:28 Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit. 11:29 Wie sy huis in beroering bring, sal wind erwe, en 'n dwaas word 'n slaaf van hom wat wys van hart is. 11:30 Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys. 11:31 As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!