[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
9:1 Die Wysheid het haar huis gebou, haar sewe pilare uitgekap, 9:2 haar slagvee geslag, haar wyn gemeng, ook haar tafel gedek. 9:3 Sy het haar diensmeisies uitgestuur, sy nooi uit op die hange van die stadshoogtes: 9:4 Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen, wie verstandeloos is, vir hom sê sy: 9:5 Kom, eet julle van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het; 9:6 laat staan die eenvoudigheid, dan sal julle lewe, en betree die weg van verstand. 9:7 Hy wat 'n spotter teregwys, behaal vir homself skande, en hy wat 'n goddelose bestraf, vir homself 'n skandvlek. 9:8 Bestraf 'n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf 'n wyse, en hy sal jou liefhê. 9:9 Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder. 9:10 Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. 9:11 Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg. 9:12 As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy 'n spotter, dan moet jy dit alleen dra. 9:13 Vrou Dwaasheid is onrustig, pure eenvoudigheid en heeltemal onkundig; 9:14 en sy sit by die deur van haar huis, op 'n stoel op die hoogtes van die stad, 9:15 om te nooi die wat op die weg verbygaan, die wat op hulle paaie reguit wandel: 9:16 Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy: 9:17 Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker. 9:18 Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie.