[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
4:1 Hoor, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken; 4:2 want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie. 4:3 Want toe ek 'n seun was by my vader, teer en 'n enigste voor my moeder, 4:4 het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe. 4:5 Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie: 4:6 verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak. 4:7 Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. 4:8 Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. 4:9 Dit sal 'n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou 'n sierlike kroon verskaf. 4:10 Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word. 4:11 In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree; 4:12 as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. 4:13 Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe. 4:14 Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. 4:15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; 4:16 want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie. 4:17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. 4:18 Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, 4:19 is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. 4:20 My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, 4:21 laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 4:22 Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en 'n genesing vir hulle hele liggaam. 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. 4:24 Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe. 4:25 Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. 4:26 Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, 4:27 wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.