[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
3:1 My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; 3:2 want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. 3:3 Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, 3:4 dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense. 3:5 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. 3:6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. 3:7 Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; 3:8 dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. 3:9 Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; 3:10 dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos. 3:11 My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, 3:12 want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos 'n vader die seun in wie hy behae het. 3:13 Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; 3:14 want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; 3:15 dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. 3:16 In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; 3:17 sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. 3:18 Dit is 'n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig. 3:19 Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel; 3:20 deur sy kennis het die watervloede oopgebreek en het die wolke dou gedrup. 3:21 My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg, 3:22 dan sal dit die lewe wees vir jou siel en 'n versiersel vir jou hals; 3:23 dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie; 3:24 as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. 3:25 Jy hoef nie bang te wees vir 'n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; 3:26 want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik. 3:27 Hou 'n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. 3:28 Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee--terwyl jy dit het. 3:29 Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. 3:30 Twis nie sonder oorsaak met 'n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie. 3:31 Wees nie afgunstig op 'n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. 3:32 Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes. 3:33 Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. 3:34 As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade. 3:35 Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande.