[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
2:1 My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, 2:2 sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; 2:3 ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, 2:4 as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, 2:5 dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind 2:6 (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand, 2:7 en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is 'n skild vir die wat regskape wandel 2:8 deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar); 2:9 dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid--elke goeie pad. 2:10 Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; 2:11 oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, 2:12 om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; 2:13 van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weƫ van duisternis te wandel; 2:14 die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte, 2:15 van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore; 2:16 om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei 2:17 (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet; 2:18 want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme; 2:19 almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie) 2:20 sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou; 2:21 want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, 2:22 maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.