[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]
1:1 Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, 1:2 om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, 1:3 om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; 1:4 om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; 1:5 laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, 1:6 om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. 1:7 Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. 1:8 My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; 1:9 want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals. 1:10 My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; 1:11 as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, 1:12 laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; 1:13 allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; 1:14 jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê-- 1:15 my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; 1:16 want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; 1:17 want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: 1:18 so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. 1:19 So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe. 1:20 Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, 1:21 op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: 1:22 Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? 1:23 Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. 1:24 Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, 1:25 en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, 1:26 daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; 1:27 as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. 1:28 Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. 1:29 Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, 1:30 van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, 1:31 daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. 1:32 Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde; 1:33 maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.