[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]
1:1 Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. 1:2 Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak-- 1:3 die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit! 1:4 Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. 1:5 En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes. 1:6 En Johannes was gekleed met kameelhare en 'n leergord om sy heupe, en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. 1:7 En hy het gepreek en gesê: Hy wat sterker is as ek, kom ná my, en ek is nie waardig om neer te buk en sy skoenriem los te maak nie. 1:8 Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees. 1:9 En in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 1:10 En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. 1:11 En daar het 'n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. 1:12 En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn. 1:13 En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien. 1:14 En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig 1:15 en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. 1:16 En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. 1:17 En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. 1:18 En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg. 1:19 En toe Hy daarvandaan 'n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak. 1:20 En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg. 1:21 En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. 1:22 En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. 1:23 En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu 1:24 en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! 1:25 En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! 1:26 En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. 1:27 En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? 1:28 En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa. 1:29 En dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas. 1:30 En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê. 1:31 Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. 1:32 En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. 1:33 En die hele stad het by die deur saamgekom. 1:34 En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. 1:35 En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. 1:36 En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg. 1:37 En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U. 1:38 En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan. 1:39 En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf. 1:40 En daar kom 'n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig. 1:41 En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! 1:42 En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig. 1:43 En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg 1:44 en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot 'n getuienis vir hulle. 1:45 Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in 'n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.