[1] [1] [2] [3] [4] [5]
5:1 Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. 5:2 Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders. 5:3 Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees. 5:4 Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in. 5:5 Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word. 5:6 Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word. 5:7 Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede. 5:8 Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie. 5:9 Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn. 5:10 Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger. 5:11 Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda. 5:12 Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie. 5:13 Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout. 5:14 Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel. 5:15 Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander. 5:16 Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het. 5:17 Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister: 5:18 ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop. 5:19 U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag. 5:20 Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae? 5:21 Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. 5:22 Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?