[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]
16:1 En die lot het uitgekom vir die kinders van Josef: van die Jordaan van Jérigo af, oostelik van die waters van Jérigo, na die woestyn wat van Jérigo af oploop in die gebergte, na Bet-el; 16:2 verder loop dit van Bet-el af aan na Lus en loop oor na die grondgebied van die Arkiete, na Atarot; 16:3 dan loop dit af in die weste na die grondgebied van die Jafletiete, tot by die gebied van Bet-Horon-Onder en tot by Geser, sodat dit doodloop by die see. 16:4 So het dan die seuns van Josef, Manasse en Efraim, 'n erfdeel ontvang. 16:5 En dit was die grondgebied van die kinders van Efraim volgens hulle geslagte--die lyn van hulle erfdeel was, in die ooste: Atrot-Addar tot by Bet-Horon-Bo; 16:6 dan loop die lyn aan na die see; in die noorde: Mígmetat; dan swaai die lyn in oostelike rigting na Táänat-Silo en loop oos daarvan oor na Janóag; 16:7 en van Janóag loop dit af na Atarot en Náharat en raak dan aan Jérigo en loop op die Jordaan uit. 16:8 Van Tappúag af loop die lyn in westelike rigting na die spruit Kana; verder loop dit dood by die see. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Efraim volgens hulle geslagte; 16:9 en die stede wat vir die kinders van Efraim afgesonder was in die erfdeel van die kinders van Manasse, al die stede met hulle dorpe. 16:10 Maar hulle het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; so het dan die Kanaäniete onder Efraim bly woon tot vandag toe; maar hulle moes dwangarbeid verrig.