[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]
17:1 Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik-- 17:2 soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 17:4 Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. 17:5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. 17:6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. 17:7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. 17:8 Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. 17:9 Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 17:10 En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik. 17:11 En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. 17:12 Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. 17:13 Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. 17:14 Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17:15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 17:16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. 17:18 Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. 17:19 En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. 17:20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo-- 17:21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 17:22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. 17:24 Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld. 17:25 Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het. 17:26 En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.