[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]
39:1 Kan jy prooi jag vir die leeuin? Of die honger van die jong leeus stil maak 39:2 as hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer? 39:3 Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel? 39:4 Weet jy die tyd as die steenbokke lam? Neem jy dit waar as die takbokooie voortbring? 39:5 Tel jy die maande wat hulle dragtig is? En weet jy die tyd dat hulle lam? 39:6 Hulle buig hul krom, bring hulle kleintjies voort--weg is hulle weë! 39:7 Hulle kleintjies word sterk, word groot in die veld, loop weg en kom na hulle nie terug nie. 39:8 Wie het die wilde-esel so vry laat loop? En wie het die bande van die woestyn-esel losgemaak? 39:9 Vir hom het Ek die wildernis sy huis gemaak en die brak land sy woonplek. 39:10 Hy lag oor die gewoel van die stad; die geskreeu van die drywer hoor hy nie. 39:11 Die omgewing van die berge is sy weiveld; en al wat groen is, soek hy uit. 39:12 Sal die buffel gewillig wees om jou te dien? Of sal hy vernag by jou krip? 39:13 Kan jy die buffel aan die ploegvoor bind met sy trektou? Of sal hy die laagtes agter jou eg? 39:14 Sal jy op hom vertrou, omdat sy krag groot is? En aan hom jou arbeid oorlaat? 39:15 Kan jy op hom reken, dat hy jou gesaaide sal inbring en bymekaarmaak op jou dorsvloer? 39:16 Die vlerk van die volstruis klap vrolik. Is dit 'n sagaardige vleuel en veer? 39:17 Want sy laat haar eiers op die grond lê en hou hulle warm op die grond; 39:18 en vergeet dat 'n voet dit kan stukkend druk en die wilde diere van die veld dit kan vertrap. 39:19 Hard behandel sy haar kleintjies asof dit nie hare is nie; is haar moeite tevergeefs--sy is nie bekommerd nie. 39:20 Want God het haar die wysheid ontsê en haar geen deel gegee aan die verstand nie. 39:21 Wanneer sy haarself in die hoogte klap, lag sy oor die perd en sy ruiter. 39:22 Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare? 39:23 Laat jy hom spring soos die sprinkaan? Sy trotse gesnuif is 'n verskrikking. 39:24 Hy grawe in die laagte en is vrolik in sy krag; hy trek uit, die stryd tegemoet. 39:25 Hy lag oor die vrees en word nie verskrik nie en draai nie om vir die swaard nie. 39:26 Op hom rammel die pylkoker, die flikkerende spies en lans. 39:27 Onstuimig en wild verslind hy die grond en staan nie stil as die basuin klink nie. 39:28 By elke basuinstoot sê hy: Heag! En van ver ruik hy die oorlog, die donderroep van die leërowerstes en die oorlogsgeskreeu. 39:29 Sweef die valk opwaarts deur jou verstand en sprei sy vlerke uit na die suide toe? 39:30 Of vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes? 39:31 Op die rots woon hy en vernag hy, op die rotspunt en bergvesting. 39:32 Daarvandaan loer hy op voedsel, sy oë kyk in die verte. 39:33 Ook slurp sy kleintjies bloed, en waar gesneuweldes lê, daar is hy. 39:34 En die HERE het Job geantwoord en gesê: 39:35 Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord! 39:36 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: 39:37 Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. 39:38 Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie.