[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]
38:1 Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: 38:2 Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? 38:3 Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. 38:4 Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. 38:5 Wie het sy afmetinge bepaal? --jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? 38:6 Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? 38:7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? 38:8 En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? 38:9 Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. 38:10 Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; 38:11 en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe. 38:12 Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, 38:13 om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? 38:14 Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed. 38:15 En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. 38:16 Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? 38:17 Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? 38:18 Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet. 38:19 Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis--waar is tog sy plek, 38:20 sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis? 38:21 Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot! 38:22 Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, 38:23 wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog? 38:24 Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde? 38:25 Wie het 'n kanaal gesplyt vir die stortvloed en 'n pad vir die onweerstraal; 38:26 om te laat reën op 'n land waar geen mens is nie, op 'n woestyn waar niemand woon nie; 38:27 om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit? 38:28 Het die reën 'n vader? Of wie verwek die doudruppels? 38:29 Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel--wie baar dit? 38:30 Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar. 38:31 Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak? 38:32 Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei? 38:33 Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? 38:34 Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat 'n oorvloed van water jou oordek? 38:35 Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons! 38:36 Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? 38:37 Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel--wie giet hulle leeg 38:38 wanneer die stof saamvloei tot 'n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe?