[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]
31:1 Ek het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou? 31:2 Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes-- 31:3 is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie? 31:4 Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie? 31:5 As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: 31:6 laat Hy my dan weeg op 'n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet! 31:7 As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande 'n vlek gekleef het-- 31:8 laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word. 31:9 As my hart verlok was oor 'n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste-- 31:10 laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. 31:11 Want dit is 'n skandelike daad, en dit is 'n strafbare misdaad. 31:12 Ja, dit is 'n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel. 31:13 As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle 'n geskil met my gehad het-- 31:14 wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen? 31:15 Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie? 31:16 As ek die armes 'n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het 31:17 en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet; 31:18 (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by 'n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!) 31:19 as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie; 31:20 as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie; 31:21 as ek my hand teen 'n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het-- 31:22 laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word. 31:23 Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig. 31:24 As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! 31:25 As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; 31:26 as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, 31:27 en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle 'n kus toegewerp het-- 31:28 ook dit sou 'n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het. 31:29 As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het; 31:30 (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur 'n vloek sy lewe te vorder nie!) 31:31 as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie? 31:32 (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!) 31:33 as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek, 31:34 omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie! 31:35 Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het! 31:36 Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as 'n krans. 31:37 Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as 'n vors sou ek na Hom toe aankom. 31:38 As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween; 31:39 as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het-- 31:40 laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.