[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]
17:1 My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my. 17:2 Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus. 17:3 Gee tog 'n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen? 17:4 Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie. 17:5 Hy wat vriende aanklaag vir 'n buitaandeel--die oë van sy kinders sal versmag. 17:6 Maar Hy het my 'n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug. 17:7 Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos 'n skaduwee. 17:8 Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand. 17:9 Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag. 17:10 Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! 'n Wyse vind ek onder julle tog nie. 17:11 My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart. 17:12 Van die nag maak hulle 'n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis. 17:13 As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei, 17:14 die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster, 17:15 waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit? 17:16 Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.