[1]
[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]
[32]
[33]
[34]
[35]
[36]
[37]
[38]
[39]
[40]
[41]
[42]
10:1 Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
10:2 Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
10:3 Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
10:4 Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien?
10:5 Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man?
10:6 dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
10:7 ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
10:8 U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
10:9 Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
10:10 Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
10:11 Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
10:12 Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
10:13 Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
10:14 As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
10:15 Was ek skuldig--wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
10:16 En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
10:17 U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder--altyd nuwe leërafdelings teen my!
10:18 Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het.
10:19 Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
10:20 Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees,
10:21 voordat ek heengaan--en nie terugkom nie--na die land van duisternis en doodskaduwee,
10:22 'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel--soos middernag!
|