[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14]
5:1 Hoor dit, o priesters, en let op, o huis van Israel, en gee gehoor, o huis van die koning! Want die vonnis raak julle, omdat julle vir Mispa 'n vangnet geword het en 'n uitgespreide net op Tabor. 5:2 Ja, in verderflike praktyke verdiep die afvalliges hulle, maar Ek sal hulle almal tot tugtiging wees. 5:3 Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig. 5:4 Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die HERE nie. 5:5 En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim sal struikel deur hulle ongeregtigheid, ook Juda sal saam met hulle struikel. 5:6 Met hulle kleinvee en hulle beeste sal hulle heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek. 5:7 Hulle het troueloos gehandel teen die HERE, want hulle het onegte kinders verwek; nou sal die nuwemaan hulle met hul velde verteer. 5:8 Blaas die basuin in Gíbea, die trompet in Rama! Hef aan die krygsgeskreeu in Bet-Awen. Agter jou kom dit, Benjamin! 5:9 Efraim sal 'n woesteny word op die dag van straf; onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat seker is. 5:10 Die vorste van Juda is soos hulle wat die grenslyne verlê. Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water. 5:11 Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel. 5:12 Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente. 5:13 Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur gegaan en na koning Jareb gestuur; maar hy kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie. 5:14 Want Ek is soos 'n leeu vir Efraim, en soos 'n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red. 5:15 Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.