[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6]
5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; 5:2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur. 5:3 Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; 5:4 ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. 5:5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. 5:6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. 5:7 Wees dan nie hulle deelgenote nie. 5:8 Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel soos kinders van die lig. 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. 5:10 En beproef wat die Here welbehaaglik is; 5:11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 5:12 Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem. 5:13 Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. 5:14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. 5:15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; 5:16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. 5:18 Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. 5:19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, 5:20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 5:21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. 5:22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. 5:24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. 5:25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, 5:27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. 5:28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; 5:29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. 5:30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. 5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 5:32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. 5:33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.