[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12]
3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd: 3:2 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is, 3:3 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou, 3:4 'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring, 3:5 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing, 3:6 'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi, 3:7 'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek, 3:8 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede. 3:9 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? 3:10 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. 3:11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind. 3:12 So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. 3:13 En ook--dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God. 3:14 Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig. 3:15 Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op wat verbygegaan het. 3:16 Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg--daar was onreg, en die plek van geregtigheid--daar was onreg. 3:17 Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk. 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is. 3:19 Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. 3:20 Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. 3:21 Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde? 3:22 So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?