[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6]
2:1 In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2:2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 2:4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 2:5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 2:6 wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, 2:7 waartoe ek aangestel is as 'n prediker en apostel--ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie--'n leraar van die heidene in geloof en waarheid. 2:8 Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis. 2:9 So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, 2:10 maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. 2:11 Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. 2:12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. 2:13 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. 2:14 En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. 2:15 Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.