[1] [1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]
12:1 En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 12:2 Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is. 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus 'n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. 12:4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 12:5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 12:6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 12:7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 12:8 Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 12:10 aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale. 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. 12:12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. 12:14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. 12:15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 12:16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 12:17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? 12:18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. 12:19 As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? 12:20 Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. 12:21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. 12:22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; 12:23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, 12:24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, 12:25 sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. 12:26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 12:27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. 12:28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. 12:29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? 12:30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? 12:31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.